Geskiedenis

Laerskool Totius

Bietjie meer oor ons ...

Laerskool Totius is ‘n primêre staatskool met Afrikaans as onderrigmedium in Boston, ‘n voorstad van Bellville.

Teen April 2016 het die skool 595 leerders van gr. RR tot gr. 7 gehad, van wie 135 in die voorgraadse en 460 in die graadklasse was. Die kleinste graadgroep was die gr. 7’s met 53 en die grootste die gr. R’s met 80 leerders. Daar was ‘n redelik gelykop verdeling van 228 meisies en 232 seuns. Sedert 2015 is mnr. H.L. Bester die skoolhoof. 

Ons Geskiedenis

Die skool is op 9 April 1951 met 150 leerders en vyf onderwyseresse in ses losstaande klaskamertjies begin. Destyds het dit Voorbereidingskool Boston geheet, en is leerders net tot graad 3 geakkommodeer.

Gedurende die tydperk April 1951 tot Desember 1953 was Voorbereidingskool Boston besig om die fondamente te lê waarop Totiusskool sedert 1 Januarie 1954 begin verrys het. Met die afsterwe van prof. J.D. du Toit (Totius), godgeleerde, Bybelvertaler, digter en volksman, in 1953 is besluit om die skool na hom te noem.

In Januarie 1954 het dit Totiusskool geword. In dieselfde jaar is toestemming van die departement van onderwys verkry om die skool in ´n laerskool te verander, en elke jaar het een graadgroep bygekom.

Weens beperkte ruimte in die tydelike skoolgeboue is leerders en onderwysers in twee groepe verdeel, en onderrig is in dubbelskofte aangebied. Een groep se skooldag het van 08:00 tot 13:30 geduur, en die ander s’n van 12:00 tot 16:30.

Die hoeksteenlegging van die nuwe skoolgebou, soos dit vandag nog daar uitsien, is op 5 Mei 1955 gedoen. Op 28 November 1956 is die nuwe skoolgebou ingewy. Dr. J.G. Meiring, superintendent-generaal van onderwys in Kaapland, het die skool geopen. Dr. Meiring het tydens dié geleentheid aanbeveel dat, aangesien die skool na Totius heet, die laaste vers van Psalm 91, wat deur Totius berym is, die skool se Psalm moes word.

Die volgende hoofde het die skool gedien:

  • Dr. P.K. Cronje 1951–1959
  • N.J.I. v.d. M. Visser 1960–1963
  • J.C. Visser 1964–1969
  • I.W. van Rensburg 1970–1978
  • A. d´L. Volschenk 1978–1983
  • J.D. Rossouw 1984–1996
  • G.C. van Zijl 1997–2014
  • H.L. Bester 2015  –

Ons Skoolnaam

Dr. J.D. du Toit (Totius), na wie die skool vernoem is.

Prof. dr. J.D. du Toit (1877–1953) is een van ‘n handjie vol groot geeste wat aan Suid-Afrika geskenk is.

Vir die skool is hy die verpersoonliking van Liefde en Lig, die twee grondliggende gedagtes wat ons as leuse aanvaar.

Totius is die afgeleide vorm van prof. dr. J.D. du Toit se naam. Dit is ook die naam waaronder hy gedig het.

Skoolwapen en leuse

Ons skoolwapen, die sewepuntster, saam met ons leuse “Liefde en Lig”, staan vir hoë ideale en doelgerigte groei. Dit herinner ons daaraan om altyd verder te kyk, groter te droom en ons horisonne te verbreed. Die LIG word in sewe punte van die ster saamgevat; elke punt verteenwoordig ‘n dag van die week:

1. Sondag: (wys na bo) Liefde vir ons Hemelse Vader, vir Sy Woord, vir Sy Werk.

2. Maandag: (kloksgewys) Liefde vir wat ons doen, soeke na kennis en vreugde in leer en werk.

3. Dinsdag: Liefde vir ons medemens; om goed te doen, om te gee vir ander en gesonde gesindhede te kweek.

4. Woensdag: Liefde vir ‘n sterk, gesonde liggaam en gees; deur sport, spanwerk en ontspanning.

5. Donderdag: Liefde vir ons land en die natuur, sy mense en ons taal.

6. Vrydag: Liefde en waardering van ons gesin.

7. Saterdag: Liefde vir alles wat mooi, eerbaar en opreg is.

Kyk bietjie na ons Personeel

Dan Bergeron

Mathematics

Forensic team earns several

Mathematics

Forensic team earns several

Mathematics