Intermediêre en Seniorfase
Intermediêre en Seniorfase (Gr. 4 – 7)
In die Intermediêre en Seniorfase word leerders in kleiner klasse deur vakspesialiste onderrig. Ons onderwysers is goed toegerus, met lidmaatskap van verskeie vakorganisasies wat toegang bied tot hoë-gehalte Afrikaanse hulpbronne. Lesaanbiedings word verder verryk deur die gebruik van tegnologie, insluitend platforms soos YouTube en Wolkskool.
Ons kweek ’n liefde vir taal en getalle, en moedig leerders aan om hul talente te ontwikkel. Leerders neem jaarliks deel aan kompetisies soos Wen-met-jou-pen en die SAMF-wiskunde-uitdaging.
Ons glo egter dat ’n gebalanseerde opvoeding noodsaaklik is — leer en speel loop hand aan hand.
Leer word prakties en betekenisvol gemaak deur aktiwiteite soos die kweek van plante, die verkenning van sintuie, voedselverwerking, kunsskepping en eenvoudige ingenieursprojekte, waar leerders onder andere hidrouliese toestelle en modelstrukture bou.
Leerders in graad 4 tot 7 neem jaarliks deel aan opvoedkundige kampe — ’n hoogtepunt op ons skoolkalender.
Met ’n holistiese benadering tot opvoeding skep ons ’n ruimte waar gebalanseerde en gelukkige leerders kan ontwikkel tot die beste weergawe van hulself.
